--------------------------
Stil, op my plek, so bietjie sarkasties en seker ietwat intelligent. Alhoewel ek nie glo dis intelligensie wat my gebring het tot waar ek vandag is nie, maar bloot harde werk en baie deursettingsvermoë, asook baie ekstra insette.
Ek het nie nét die onderwysers se notas en opinies in ag geneem nie. Ek het baie ekstra handleidings deurgelees en deurgewerk, wat ek gewoonlik by my gawe onderwysers gekry het. Ek is ook dankbaar dat ek ’n goeie langtermyngeheue het – ek het hard geleer vir die Junie-eksamen, sodat ek net deur Julie en Augustus se werk moes gaan vir die rekordeksamen. Ek het ’n dag voor die tyd al my werk net deurgegaan vir die eindeksamen, behalwe Afrikaans en Engels. Ek glo dat ‘n mens nooit te veel vir jou tale kan leer nie. Dit beteken te veel vir my.
Ek studeer hierdie jaar Onderwys aan die Universiteit van Johannesburg, met Afrikaans en Engels as my hoofmodules. Ek bly in Skoonveld koshuis en as die graad aggies dink ontgroening in die hoërskool is erg, moet hulle liewers nie ’n eerstejaar in die koshuis word nie.
Ek droom daarvan om hierdie jaar ’n digbundel te publiseer. Ek wil ook tussen my studies deur my eerste roman probeer skryf. Ek het so baie by my Bastion-onderwysers geleer, wat ek nog in my skryfwerk wil blootlê en ek is ’n dromer…
Aan hierdie jaar se matrieks wil ek graag sê: Geniet jou laaste skooljaar ten volle, want jy gan so terugverlang. Al gee die onderwysers jou nou moeilikheid, druk deur, want die wêreld buite die skool is nie so gaaf en vergewensgesind soos binne die skool nie. Na skool is jy op jou eie en die vryheid kan mens soms oorweldig. Waardeer jou onderwysers en doen net jou beste in alles. Jy gaan nie weer so baie geleenthede op een plek kry soos in die skool nie. Werk hard en moenie agter raak nie. En laastens, onthou om alles met ‘n glimlag te doen!
Aan my onderwysers wil ek net dankie sê. Dankie vir al die ondersteuning tot op my laaste skooldag en vir alles wat ek by hulle kon leer. Juffrou Groenewald, Juffrou Koekemoer, Juffrou Schreuder en Juffrou Nettie Smith sal altyd my lewensmentors bly!
Dis hoe julle aan die einde gaan voel…
Kan ek nie maar bly nie?
Ek sit vandag in ‘n leë klas…
net ek…ry-op-ry banke staan agter my,
voor my,
om my soos ’n leër soldate
12 jaar se lesse is teen die mure geskryf
kilometers ink is teen legio bome uitgekrap
ek is as onskuldige, gelukkige, naïewe bloedjie ingeskryf
toe ek nog drome en ideale gehad het
wanneer mens nog glo jy kan die wêreld verander
doktors, prokureurs, skoonmakers, straatveërs
het ook gesit waar ek vandag sit –
op dieselfde stoel
hulle het gedroom,
gefantaseer;
hulle sal enigiets word,
solank hulle net hier kan wegkom
maar ek wil nie
ek wil nie hier weg nie
ek het te hard kennis gemaak met die werklikheid;
ek weet wat buite die skoolhekke vir my wag –
die wilde diere gaan my verslind
hierdie “tronk’-mure was vir my beskerming
elke gedig, elke storie, elke leerplan trooswoorde
ek wens iemand wil my hand vashou
vandag voel ek soos ‘n voëltjie wat sy nessie moet verlaat…
No comments:
Post a Comment
Please feel free to comment on any article on this blog