--------------------------
Toe ek nog klein was, was die enigste ding wat ek wou gehad het, om klaar te maak met skool, sodat ek die grootmenswêreld kon wys wie en wat ek is. Noudat ek hier is, wil ek met alle mag weer teruggaan skool toe.
Op skool was ek ’n stil en gehoorsame leerder, wat altyd pligsgetrou haar huiswerk en take gedoen het en wat net met uitsondering in die moeilikheid beland het. Ek het net ‘n paar uitgesoekte mense toegelaat om die “ware ek” te leer ken, maar ek was en is nog altyd reg vir ’n uitdaging.
Ek het dwarsdeur my matriekjaar hard gewerk, want ek het geweet watter groot taak dit sou wees om sulke goeie punte te behaal. Met ongelooflik baie ondersteuning van my familie en vriende, het ek geweet die enigste een vir wie ek so hard moes werk, is myself. Dit was ook my manier om vir almal in my lewe dankie te sê vir al hulle bystand en motivering. Ek dank ons Hemelse Vader dat Hy my so geseën het en soveel krag gegee het om net die beste te gee wat ek het. Ek wil ook graag dankie sê aan juffrou Betjie Groenewald, juffrou Gieneke Koekemoer, juffrou Lynette Jonker, juffrou Melardi Grobler en juffrou Audrey Roets vir hulle bystand deur die jare.
Dit het redelik moeite geverg om my akademiese en sosiale lewe te balanseer, maar ek het graad twaalf geslaag met vyf onderskeidings en ’n gemiddeld van 80,5%.Tans beklee ek ’n tydelike pos by ’n boekhoumaatskappy, waar ek uithelp totdat ek volgende jaar gaan studeer. Dit help my om besig te bly en ek geniet dit om met syfers te werk.Aan alle leerders wat nog op skool is, wil ek graag die volgende sê: Daar sal party dae wees wat jy wens dat jy klaar is met skool, maar geniet dit terwyl jy kan. Jy sal nie vir altyd die verskoning dat jy nog ’n kind is, kan gebruik nie. Vertrou op God en vertrou die onderwysers. Hulle is nie altyd reg nie en hulle maak ook soms foute, maar hulle probeer hulle bes. Vertrou ook op jouself, want as jy self nie glo dat jy kan nie, sal jy niks kan uitrig nie. Rome is nie in een dag gebou nie, maar jy moet ook bereid wees om die paadjie te stap.Ek laat jou met die volgende gedagte: Leef voluit, volhard in dit wat jy doen en jy sal die vrugte daarvan pluk. Woorde wat voorheen niks vir my beteken het nie, maar nou ’n groot impak op my lewe het, is: "Dit is my strewe om aan die einde van my lewe in ootmoed te kan sê: ‘Ek het die goeie stryd gestry, ek het die wedloop voleindig, en ek het die geloof behou.’ (2 Tim. 4:7)”Bastion bo!
No comments:
Post a Comment
Please feel free to comment on any article on this blog