As seen in the Klerksdorp Record / Rekord
"Pappa tel my op asseblief. Ek wil by jou wees.” Dit was klein Zan-Marie du Preez se laaste woorde voordat sy in haar pappa se arms haar laaste asem uitgeblaas het.
Erns du Preez kyk weg. Sy oë gaan rus iewers in die pad waar ons die bietjie hitte van die laaste flenter middagson op die stoep opsoek. Dan kyk hy jou weer in die oë. “Jy weet, hulle behandel mense soos honde. Maak nie saak of jy wit, swart, pienk of pers is nie. Soos honde.”Erns is kwaad. Kwaad oor sy kind dood is. Kwaad vir die regering. Kwaad vir die dokters by die Klerksdorp en Tshepong-hospitale. En ook bietjie kwaad vir homself oor hulle nie eerder hulp by ’n privaat hospitaal gaan soek het nie. Maar dit bring weer die kwessie van geld op. Geld wat daar nie is nie. Erns en Sonja is altwee werkloos. In die kort tydjie wat hulle hul dogter se verlies moet verwerk, is hulle ook uit hul blyplek gesit by Orkney-Vaal weens agterstallige huur. Erns was besig om sy eie onderneming saam met ’n vriend op die been te bring. Maar ook dit moet nou eers wag. Hulle het pas agtergekom hul drie maande oue babaseun, Zandré, is blind. Hy is op 33 weke gebore en het 1,92kg geweeg. Ouma gee bottel. Hy is koliekerig en almal is dit eens dat hy sy ouers se spanning aanvoel.Waar Erns op die stoepmuurtjie sit, kan Sonja nie stilsit nie. Sy is ’n klein vroutjie en dra baie swaar aan die verlies van haar enigste dogtertjie. Sy sê meer as een keer dit voel of ’n deel van haar lewe weg is. “Zani was my alles. My lewe. Ons was twenty four seven bymekaar. Ek mis haar so.”Op 27 het sy al meer deurgemaak as ander in ’n leeftyd en vertel van haar eerste baba wat te vroeg gebore is en toe dood is. ’n Seuntjie. Toe kom Zan-Marie. Ook ’n prembaba wat op 36 weke gebore is. ’n Wonderwerk, want dokters het gesê Sonja sal nie weer kan swanger raak nie. “Ons het so gewag vir haar. En geveg dat sy dit maak. Toe al het ons ’n stelletjie afgetrap by Klerksdorp Hospitaal en Erns het my uit die hospitaal gehaal en sy is gebore in die Anncron. Al my kinders is wonderwerkies,” gesels Sonja terwyl sy die baba se bottel volmaak.Die ouerpaar is baie bitter oor die be-handeling wat hulle met hul siek kind in die Klerksdorp en Tsheponghospitale gekry het. Dit was ’n Saterdagaand (“kinders word mos net oor naweke en in die aand siek”) om en by 19:00 wat klein Zan-Marie by haar mamma gekla het dat sy siek voel. Sonja het vir haar panadostroop gegee en sy het gaan slaap.Die volgende oggend na kerk het die kind weer geslaap en eers laat wakker geword en gehuil van pyn op haar maag en in haar regterbeen. Sy het ’n hoë koors gehad en naar geword. Die kind het net sieker geword en die ouerpaar het haar na 20:00 na Klerksdorp hospitaal geneem. Daar is sy ondersoek en huistoe gestuur met panadostroop en antibiotika. Vir blaasontsteking.Sonja raak driftig as sy verder praat. “Ek was glad nie tevrede nie en die dokter sê toe ek moet haar dan Tshepong toe neem as ek nie happy is nie. Hy het ook geweier om my ’n verwysingsbrief te gee,” sê Sonja.Hulle is toe huis toe en die volgende oggend is hulle na Tshepong aangesien Zan-Marie net swakker geword het. “Ons het verduidelik sy kla van pyn op die maag en haar beentjie is lam. Selfs ek, wat ’n spraypainter is, weet dit is jou blindederm. Wil jy vir my sê ’n dokter wat sewe jaar geleer het, weet dit nie,” sê Erns.“Ons was bekommerd oor ons kind en almal kyk ons net ongelowig aan. Zan-Marietjie was toe al in ’n koma en het stuiptrekkings van koors gekry. Hulle het haar gehelp, maar in geen stadium kon ek sien dat hulle dit as ’n noodgeval hanteer nie. Sy is vir x-strale geneem, bloed is getrek en ’n sonar is gedoen en tog het niemand ons ernstig opgeneem as ons van haar blindederm praat nie. Haar koors het bly klim, maar die dokter het gesê hy sien niks fout nie. “Hulle het haar wel later opgeneem in die sjirurgiese afdeling en gesê haar blindederm kan bars. Dit het glad nie gelyk of hulle haar vir ’n operasie voorberei nie,” vertel Sonja.Die paartjie is oortuig dat hul kind nog sou lewe as dokters vinniger opgetree het. Sy is om 14:15 in Tshepong dood. Die nadoodse ondersoek het getoon dat sy wees septisemea dood is. Waarskynlik omdat haar blindederm gebars het.Die Du Preez’s is bitter. Hulle het ’n verklaring by die polisie afgelê wat ’n geregtelike ondersoek na haar dood gelas het. Hulle oorweeg ook regstappe teen die dokters en die hospitaal.“Die hospitaal het ons geskakel en ’n afspraak gemaak om hulle te kom sien, maar ek gaan nie soontoe sonder ’n prokureur nie. Te veel mense bly stil oor wat daar gebeur en ek gaan niks toesmeer nie,” sê Erns.Sonja gaan sit. Die laaste sonstrale val langs die stoep. Sy byt die trane weg. “Dit gaan nie vir ons oor geld of sensasie nie. Ek wil net keer dat iemand anders se kind oorkom wat met myne gebeur het nie.”
Klerksdorp - Little Zan-Marie du Preez was being prepped for surgery before her death.This is what Nico Masiu, communications manager at Klerksdorp/Tshepong hospital complex, said about the death of the two year old. “Based on patient records the patient was seen by the hospital doctor on 28 July and diagnosed with Urinary Tract Infection (UTI). It is worth noting that appendicitis in young children may also present as UTI,” he said.He added that the patient was treated and discharged with oral antibiotic and anti-pyrexia medication. “The doctor further requested the patient to be brought back to hospital, if the problem persists. “The patient was again seen at Casualty in Tshepong hospital on 30 July at 08:55 complaining of abdominal pains, fever, vomiting and poor appetite. The patient was seen by the casualty officer and at 09:20 the patient further examined by the surgical doctor, who ordered sonar, abdominal and chest X-rays. The patient was followed up at surgical outpatient clinic at 13:00 where the abdominal and chest X-rays reports were reviewed, whilst awaiting blood results. “The patient was subsequently admitted in ward 6 in preparation for surgery with diagnosis of either appendicitis or faecal impaction. The patient was seen by the surgical doctor and the surgical consultant and the decision was to await the final blood results and then take the patient for surgery. Whilst waiting the blood result, the patient arrested, and was resuscitated without success and certified dead at 15:35. A post-mortem was requested.” The hospital management would like to express their sincere condolences to the family for loss of their loved one.